top of page

Bespreking van "hieronymus bosch se koringwa" (Johan van Wyk) – Aniel Botha

 

Johan van Wyk se gedig oor Hieronymus Bosch se Koringwa-skildery is een van vele antwoorde op N.P. van Wyk Louw se bekende gedig, "Ignatius bid vir sy orde". Die spreker in Van Wyk Louw se vers is die Christen-heilige en martelaar, Ignatius van Antiochië. In die gedig bid Hy tot die Here om vir Hom pyn en lyding te stuur sodat "U aarde vol kan vloei / van rykheid, en die soet geduld / óók aan U vreemde boom kan bloei." Die veronderstelling is dus dat pyn deur God gestuur word om die mens se geloof te versterk en hom groter verdraagsaamheid te leer. Van Wyk het egter ander idees hieroor.

 

Sy wrang antwoord op Van Wyk Louw se vers word aangebied in die vorm van 'n beeld-gedig met Hieronymus Bosch se Koringwa-triptiek as onderwerp. Bosch (1450-1516) was 'n Nederlandse skilder van die vyftiende en sestiende eeu. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy gebruik van fantasieryke beelde om morele en religieuse konsepte en verhale oor te dra. Sy mees bekende werk heet "Die Tuin van Aardse Plesiere".

 

Bosh het in 1485 begin skilder aan die Koringwa-skildery met sy drie panele. Die skildery is eers vyf jaar later, in 1490, voltooi. Die middelste paneel van die triptiek is 140 cm hoog en 100 cm breed en die twee buitenste panele is elk 147 cm hoog en 66 cm breed. Die uitbeelding op die buitenste luike staan bekend as "Die Pad van Lewe". Daar bestaan twee weergawes van die Koringwa-triptiek: een in El Escorial, en die ander in die Museo del Prado in Madrid, Spanje. Beide van hulle is waarskynlik afdrukke van die oorspronklike skildery.

 

Die Koringwa-skildery is gebaseer op die Skeppingsveraal, soos opgeteken in Genesis. Die linkerkantse paneel van die skildery wys vir God waar Hy op sy troon sit terwyl Hy die opstandige engele uit die hemel verban. Soos die engele deur die wolke val, verander hulle in insekte. Hierbenede word God uitgebeeld waar Hy besig is om vir Eva uit die rib van Adam te skep. Volgende word Adam en Eva gewys waar hulle die slang in die Paradys teëkom. Die slang bied vir Eva 'n appel aan. Uiteindelik, in die onderste deel van hierdie paneel, word uitgebeeld hoe die engel vir Adam en Eva uit die Tuin verwilder. Die eerste vier strofes van Van Wyk se gedig is 'n beskrywing van hierdie paneel.

 

In die vyfde strofe van Van Wyk se gedig word daar 'n wending aangetref, ingelui deur die woorde "so het dit gekom dat almal loop / agter koringwa …" Die leser se aandag word nou verskuif van die linkerkantste paneel van die skildery na die middelste. Die hooffokus van dié paneel, is 'n reuse koringwa. Die wa is omring deur 'n menigde figure, besig om allerlei sondes te pleeg terwyl God vanuit die hemel toekyk.

 

Die wending in die gedig begelei nie alleen die leser se blik van die linkerkantste paneel na die middelste nie, maar ook van die Middeleeuse sfeer van die skildery na die hedendaagse wêreld. Die sondes wat Van Wyk in sy gedig noem, hou verband met dié wat in Bosch se skildery uitgebeeld word, maar hulle word in die moderne idioom beskryf – daar is byvoorbeeld verwysings na "ministers met politieke kommentators" en na die bekende "ena-gee-raad"-rubriek van Die Huisgenoot-tydskrif.

 

In die negende strofe hervestig Van Wyk sy leser se aandag op die skildery met die woorde "behalwe 'n engel kyk op na God". In die skildery is daar 'n engel bo-op die koringwa wat biddend opkyk na bo. Al die ander figure in die skildery is skynbaar onbewus van God se teenwoordigheid. Hulle is besig om die koringwa na regs aan te dryf en die kyker se oë volg die rigting van beweging na die regterkantste paneel waar die gruwels van die hel uitgebeeld word. Hieroor skryf van Wyk: "in die hel / is elkeen bang hy word nie meer verkrag of gemartel nie". Hy sluit sy gedig af met 'n siniese eggo van Van Wyk Louw se woorde: "want, dat pyn bestaan is nodig".

 

Waar Van Wyk Louw se gedig pyn voorstel as iets edels wat deur God gestuur word as 'n manier vir die mens om homself te reinig sodat hy nader aan God kan beweeg, beskou Van Wyk se gedig pyn as iets wat die mens oor homself bring vir sy eie onthalwe – pyn kom nie van God af nie, maar word gebore uit die mens se eie sonde. Die mens word dus uitgebeeld as 'n soort masochis, vir wie hel dan juis die afwesigheid van pyn beteken. In Bon Jovi se woorde: "You bleed just to know you're alive."

 

 

"Hieronymus Bosch se Koringwa" as voorbeeld van 'n beeldgedig

 

Van Wyk se vers oor Hieronymus Bosch se Koringwa-skildery slaag as beeldgedig om drie kernredes.

 

Eerstens is daar die kwessie van toeganklikheid. Hoewel die gedig se betekenis ongetwyfeld verryk word wanneer dit saam met die betrokke skildery gelees word, is kennis van Bosch se kunswerk nie 'n voorvereiste om te kan sin maak van Van Wyk se vers nie. Dieselfde geld wat die Van Wyk Louw-interteks betref: vir die leser wat Van Wyk Louw se gedig ken, kry Van Wyk se vers ongetwyfeld 'n nuwe dimensie by, maar die gedig is ook toeganklik vir die leser wat nié hierdie konnotasie maak nie. Van Wyk se gedig kan dus onafhanklik van die skildery waarop dit gebaseer is – en die ander intertekste waarna dit verwys – as 'n selfstandige eenheid funksioneer.

 

"Hieronymus Bosch se Koringwa´ slaag tweedens as beeldgedig, omdat dit aan die leser genoeg leidrade gee om 'n suksesvolle interpretasie te kan maak, sonder om te óórverduidelik. Die titel speel 'n belangrike rol in hierdie verband: dit voorsien die leser van 'n sleutel waarmee die inhoud van die gedig oopgesluit kan word. In die gedig self word orals verwysings na Bosch se skildery, asook na Van Wyk Louw se gedig, aangetref, maar net genoeg om die leser nuuskierig te maak om self van naderby te gaan kyk en verder te gaan nalees. Daar is 'n perfekte balans tussen verhulling en onthulling in Van Wyk se gedig.

 

Van Wyk se Koringwa-vers is derdens suksesvol as beeldgedig danksy 'n noukeurige seleksieproses. Sy gedig is nie bloot 'n beskrywing van Bosch se skildery nie – indien dit die geval was, sou dit vir die leser van meer waarde gewees het om eenvoudig self na die skildery te gaan kyk of in 'n ensiklopedie daaroor te gaan nalees. Wat Van Wyk doen, is om sy eie interpretasie van die skildery te gee deur sekere kenmerke van die oorspronklike kunswerk weg te laat uit sy gedig en ander elemente toe te voeg. Bosch se skildery is 'n uiters gedetailleerde kunswerk en Van Wyk lig in sy gedig eintlik net enkele momente daarvan vir die leser uit. Terselfdertyd gee hy ook 'n nuwe dimensie aan die Middeleeuse skildery deur dit met moderne gebeure in verband te bring en deur dit teen die agtergrond van Van Wyk Louw se gedig te beskou.

 

"Hieronymus Bosch se Koringwa" is 'n pragtige, veelvlakkige beeldgedig en 'n kunswerk in eie reg.

 

 

Bronne

 

Brink, A.P. 2000. Groot Verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

http://en.wikipedia.org/wiki/The_Haywain_Triptych

http://en.wikipedia.org/wiki/Hieronymus_Bosch

http://en.wikipedia.org/wiki/Ignatius_of_Antioch

bottom of page