'n Dans met die dood
Aniel Botha was sewentien jaar oud toe sy met anorexia nervosa gediagnoseer is. Vir dié sensitiewe en begaafde skolier met ’n passie vir ballet was die woord ‘anorexia’, wat ‘aptytverlies’ beteken, eintlik ’n wanbenaming, want sy was gedurig honger – vir kos, vir rus, vir liefde en aanvaarding, maar veral vir die dood. Niemand, nie eens sy self nie, kon die redes vir haar selfvernietigende gedrag peil nie. Uiteindelik, op drie-en-twintigjarige ouderdom en op aanbeveling van ’n sielkundige, is sy in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem. ’n Dans met die Dood is Aniel se aangrypende beskrywing van die ses weke wat sy in die eetsteurnisafdeling van dié hospitaal deurgebring het, en van die ander pasiënte wat sy daar ontmoet het. Niks word verswyg oor haar pynlike reis terug van die afgrond nie – die leuens, die selfhaat, die komplekse en onstuimige liefde-haat-verhouding met kos, en die wanhopige hunkering na bevryding – of die dood. Hierdie boek onthul diep ontstellende insigte in die gemoed van ’n anoreksielyer, en is noodsaaklike leesstof vir enigiemand wat deur hierdie snel toenemende siekte geraak word.