Die rok
Mense gaan soek graag die antwoorde op die moeilike vrae in hulle verlede – miskien omdat dit makliker is as die oorsaak by iemand of iets anders lê, al is dit dan nou net ’n uitgediende weergawe van jouself. Maar daar was niks in my jeug om my voor te berei op wat later sou kom nie. Dit maak nie saak hoeveel ek daar gaan rondkrap het nie (en Dokter R hét gekrap), nie eens met die perfekte visie van ’n terugblik kon ek antwoorde daar vind nie.
Ek onthou ’n kwikstertjie wat elke middag op ons stoep kom kuier het. Dis een van die stories uit my kinderjare wat ek vir Dokter R vertel het. Ek het die gewoonte gehad om na middagete vir die kwikkie die krummels van die broodplank af te krap, miskien is dit waarom hy elke keer teruggekom het. Dan het ek hom dopgehou: pik-pik-pik het die fyn bekkie gegaan; wip-wip-wippetiewip die rooibruin stertjie. As hy gaan, dan staan hy en as hy staan, dan gaan hy …
Een middag het hy nie opgedaag nie. Die volgende oggend op pad skool toe het ons verby ’n dooie voëltjie gery wat aan die kant van die pad gelê het. Daar was geen manier om verseker te weet of dit my kwikkie was of nie, maar ek het hom nooit weer gesien nie.
Dit was die mees traumatise gebeurtenis in die eerste tien jaar van my lewe. My ouers was nie oorbetrokke of onderbetrokke nie; het my nie afgeskeep of opgepiep of – die hemel help ons – mishandel nie. Niks noemenswaardigs daar nie.
Op hoërskool het ek ver genoeg buite die cool binnekring beweeg om dikwels uitgelaat, verstote en misverstaan te voel. Soms hartgebroke en, natuurlik, kronies embarrassed – standaarduitgawe tienerjare dus. My ouers was verskriklik outyds en vervelig (soos ouers maar veronderstel is om te wees in daardie fase van ’n mens se lewe) en ek sou alles wees wat hulle nie was nie: interessant, progressief in my denke, en verdraagsaam.
My verdraagsaamheid het tot net duskant my eie ouers en hulle verkrampte gewoontes gestrek. En my progressiwiteit was eerder teoreties as prakties van aard. Ek het genoeg bangmaakstories oor dwelms gehoor om wye draaie daarom te loop – nie dat die geleentheid homself te dikwels voorgedoen het nie; soos ek sê, ek het veilig op die buiterante van die cool-groep beweeg. Darem een of twee keer aan ’n sigaret gesuig sonder om werklik in te asem, maar die magnetisme van rook het my ontwyk (heel atipies, sou ek later uitvind). Dit was asof ek geneties geprogrammeer was om versigtig te wees, veilig binne die grense van ander se verwagtinge op te tree.
Miskien was daar tog ’n paar tekens in vroeë volwassenheid – of dalk was die lawaai van studentelewe regtig net te oorverdowend; die kaleideskoop van kampus-aktiwiteit te intens. Dis nie heeltemal ongewoon om belangstelling te verloor in akademiese vordering nie, selfs ontnugter en depressief te voel wanneer die wye wêreld van volwassenheid in werklikheid blyk om net ’n voortsetting te wees van ’n eng bestaan met ’n nuwe stel verwagtinge. Die meeste studente voel oorweldig, verander van kursus, kry herre, drink te veel, slaap te min. So, dit alles kon seker tekens gewees het. Of dit was doodeenvoudig normale studentegedrag. Wie weet.
As daar vroeë simptome was, dan was ek heeltemal onbewus daarvan. Wat my betref het die ding my heeltemal onkant betrap. Ek was drie-en-twintig. In my finale jaar. Besig om ’n rok te soek vir ’n date met my nuwe kêrel. Ek was in die aanpaskamer van Zara, om presies te wees.
Dit was al Meimaand, so ek het ’n langmourok gekies – ligblou om my blou oë te komplementeer met ’n fyn wit blompatroon (blomme was hoog in die mode daardie seisoen), presies die regte afstand bo my knie om sexy te wees, maar darem nie kommin nie. Die rok was mooi, maar ek was onseker. Dalk was dit te deftig vir ’n vroeë date op ’n studentebudget. Ek het besluit om verder te soek. Maar toe ek uitstap by die winkel het ek geweet daar is groot fout – ek het my siel verloor in daardie rok. Nie op een of ander figuurlike o-dis-so-mooi-ek-moet-dit-hê manier nie; nee, my siel het fisies in die rok agtergebly.
Dis moeilik om te verduidelik. In die vooraafgaande tyd het ek wel meer bewus geword van die welstand van my siel, hoofsaaklik danksy my kamermaat wat my saamgesleep het na charismatiese kerkbyeenkomste waar die heiligmaking van die siel beklemtoon is. Tog, tot op daardie oomblik was “siel” vir my meer van ’n abstrakte konsep. Ek het beslis nie daaroor gedink as ’n afsonderlike entiteit wat ’n mens soos ’n handsak of ’n beursie kan verloor nie. Miskien is dit ook waarom ek nie dadelik twee en twee bymekaargesit het nie. Maar ek het daar weggestap met ’n skielike leegheid in my wat swaarder geweeg het as die somtotaal van al die emosionele bagasie wat ek in my jare op aarde bemekaargemaak het. En ek het gewéét – met ’n sekerheid wat enige logika troef – dat ek my siel saam met daardie rok uitgetrek het.
Natuurlik het ek, die oomblik toe ek besef het wat aan die gang is, teruggehardloop na die aanpaskamers van die winkel. Die assistent het nie geweet van watter rok ek praat nie. Ek het my gehaas na die rak waar ek die rok oorspronklik gekry het (daar was gelukkig net een in my grootte), maar ook daar was geen teken van die rok nie.
Alles wat daarna gevolg het, tot en met Dr R, is effens deurmekaar in my geheue. ’n Warboel van gebeure in ’n waas van paniek en wanhoop. Ek het aan my kamermaat probeer verduidelik wat aan die gang is. Aanvanklik het sy saam met my probeer bid vir my siel, maar dit was hopeloos. My dae het totaal uitsigloos geword. Ek het ophou klas bywoon, opgehou om met die nuwe kêrel te praat, ophou eet, selfs ophou stort. Dit was ’n marteling om my liggaam sielloos te moes saamsleep deur die lewe – dit was nie soos die hel nie; dit wás die hel. Elke dag het ek teruggegaan na die winkel in die hoop om die rok op te spoor, maar tevergeefs. Wanneer ek op kampus geloop het, was ek die heeltyd op soek na spatsels blou. Oral het ek bietjies blou gekry, maar nêrens die rok wat my kon red nie.
My kamermaat het einde ten laaste ophou bid en meer pragmaties te werk gegaan deur my ouers te bel. Dit het ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat uiteindelik gelei het tot by die kliniek, Dokter R en al die vrae oor my verlede.
Dokter R was ’n mooi vrou: haar groen oë, beklemtoon deur donker oogomlyner en verskeie lae maskara, het nie ’n ding misgekyk nie. Haar lippe was rooi geverf en van haar kort, blonde kapsel was daar nie ’n enkele haar uit plek nie. Sy het ’n nousluitende groen rok aangehad wat haar skerp kykers verder beklemtoon het, en wighakke met ’n luiperdvelmotief daarby – perfek gekoördineer. Ek het die gevoel gekry dat sy die tipe vrou is wat die boeke op haar rak volgens die kleur van hul omslae rangskik. Ek kon egter nie hierdie vermoede bevestig nie, aangesien ek haar slegs in ’n kaal wit kamertjie in die kliniek gesien het.
As my siel intakt was, sou ek Dokter R waarskynlik intimiderend gevind het. Soos die saak gestaan het, was my probleme egter veel groter as haar sardoniese blik …
Daar was vrae oor my verlede, vrae oor my hede. Soveel vrae – totdat ek later self heeltemal deurkemaar was. Haar diagnose was skisofrenie met Cottard se sindroom. Sy het risperidoon, klosapien en antidepressante voorgeskryf. Oor my verlore siel was sy hoogstens geammuseerd. My pogings om haar van my krisis te oortuig, was vir haar niks meer as bewyse van my paranoia nie.
Ek het die pille gesluk en Dokter R gespreek en voor my uitgestaar. Wat anders kon ek tog doen? Waansin is ’n glibberige ding, moeilik om raak te dink. As ’n mens ’n been breek, kan jy die pyn en ongerief op ’n intellektuele vlak uitredeneer. Maar as jou brein breek, het jy niks oor om mee sin te maak van wat aan die gebeur is nie.
Tog, ná ongeveer twee weke in die kliniek, kon ek die idee begin oorweeg dat ek moontlik my kop eerder as my siel verloor het in daardie aanpaskamer – nie noodwendig ’n geringer lot nie, maar darem een waarmee Dokter R en haar pille kon help. UIteindelik het ek ophou soek vir die blou rok.
Die pille was nie sonder newe-effekte nie. My mond was so droog soos die Karoo, ek het gedurig hoofpyn gehad en duiselig gevoel, en al wat ek wou doen, is slaap en eet, maar dit was als ’n geringe prys om te betaal om my siel weer terug te hê – al het dit dan ook nou ’n bietjie anders in my lyf gepas as vóór die ding met die rok.
Op ’n sonnige Woensdag aan die einde van die derde week het Dokter R aangekondig dat ek genoegsaam herstel het om te kan huis toe gaan.
Ek moet erken, dit was nie sonder ’n sweempie senuagtigheid dat ek die volgende oggend aan die deur van die kaal wit vertrek geklop het nie – wanneer en hoe kom die paranoia nie terug nie? En hoe onderskei ek dit van die realitiet wat dikwels nie minder verskriklik is nie? Maar ek was ook verlig om ontslae te wees van die kliniek met sy reuk van kranksinnigheid en ontsmettingsmiddel en van Dokter R met haar agtervolgende blik.
Die deur het met ’n sielsiek kreungeluid oopgeswaai. Dokter R het opgestaan en haar hand uitgstrek, oogomlyner in plek om haar oë en die glimlag met sy subtiele spot op haar rooi lippe. “Totsiens en voorspoed,” het sy gegroet, stylvol geklee in ’n langmou blou rok met ’n fyn wit blompatroon, net die regte hoogte bo haar knie om sexy te wees, maar darem nie kommin nie.