Die gebruik van die distigon in die digkuns van Elisabeth Eybers – Aniel Botha
'n Distigon is 'n strofiese eenheid wat bestaan uit twee rymende versreëls, oorspronklik 'n heksameter (sesvoetige daktiliese vers) gevolg deur 'n pentameter ('n vyfvoetige versreël). Hierdie koeplet vorm gewoonlik 'n geslote of selfstandige eenheid. Die distigon is aanvanklik hoofsaaklik gebruik in Griekse en Latynse elegiese poësie en die term is dan ook afgelei van die Griekse distikhos met die morfeem di wat "twee" beteken en stikhos wat "ry", "lyn" of "vers" beteken. Die woord "distigon" word deesdae ook algemeen gebruik om te verwys na 'n gedig wat uit 'n reeks sulke rymende koeplette bestaan.
Dié op-die-oog-af eenvoudige versvorm is in werklikheid glad nie so maklik om te bemeester nie. In die hande van 'n minder behendige digter word die paarrym dikwels eentonig of geforseerd. Volgens die bogenoemde definisie kwalifiseer boonop nie enige twee rymende versreëls as 'n distigon nie, aangesien elke koeplet as 'n selfstandige eenheid moet kan funksioneer binne die groter geheel van die gedig. Vir 'n distigon om werklik suksesvol te wees, moet die vorm en inhoud 'n hegte eenheid vorm. Die paarrym moet met ander woorde funksioneel wees en nie bloot dekoratief nie.
Indien daar binne die Afrikaanse letterkunde één digter uitgesonder mag word wat by uitstek daarin geslaag het om die beoefening van die distigon tot 'n fyn kuns te vervolmaak, is dit beslis Elisabeth Eybers. In haar oeuvre toon Eybers dan ook 'n sterk voorkeur vir die distigon. In die 2008-uitgawe van die Groot Verseboek is sewe van Eybers se distigons opgeneem ("Klein Ballade", "Jong Seun", "Ode aan Kontroleur De Laar", "Digteres as Huisvrou", "Mammektomie", "Voorsorg" en "Kringloop").
Hoewel hierdie gedigte baie van mekaar verskil ten opsigte van inhoud en tematiek, kan hulle in twee hoofkategorieë gegroepeer word na aanleiding van die wyse waarop die koeplette aangewend word. In die eerste groep word die paarrym gebruik om twee dinge wat inhoudelik bymekaar hoort ook op klankvlak tot 'n eenheid te bind. 'n Goeie voorbeeld hiervan word aangetref in die eerste drie strofes van "Klein Ballade", waar elke koeplet 'n ander sintuig betrek. In die eerste twee versreëls ("Toe het hy stil uit die nag verskyn / geraam in die donker deurkosyn") word daar gefokus op die visuele. In die tweede koeplet ("Met hande wat sku en aarselend was / het hy langsaam haar voorhoof en slape betas"), word die tassintuig betrek, terwyl die derde ("Die sagte woord wat hy oor en oor / gefluister het, het sy skaars gehoor") klem lê op gehoor. Op soortgelyke wyse word daar in "Digteres as Huisvrou" in elke koeplet 'n ander aspek van die huisvrou se bestaan uitgelig.
Die tweede versameling distigons, is dié waarin Eybers in elke koeplet twee opponerende of teenstrydige elemente of kragte jukstaponeer. Op hierdie manier slaag sy daarin om spanning te skep en ambivalente denke en emosies te beklemtoon. 'n Voorbeeld van só 'n distigon is "Jong Seun" waarin heelheid teenoor gebrokenheid geplaas word (strofe twee), onvolmaaktheid teenoor afgerondheid (strofe vyf), man-wees teenoor kind-wees (strofe ses) en weerbaarheid teenoor weerloosheid (strofes ses en agt). Ook in die gedigte "Kringloop" en "Mammektomie" kom daar telkens teenstrydighede aan bod.
In baie van haar distigons word beide hierdie tegnieke egter gekombineer, sodat sowel eenheid as kontras teenwoordig is. Sodoende word die spanning selfs verder verhoog en word gesuggereer dat dít wat op die oog af bymekaar hoort in werklikheid teenstrydig is. Een so 'n gedig is "Digteres as Huisvrou". Daar is reeds genoem dat elke strofe 'n ander faset van die huisvrou se bestaan beskryf, maar in die digter-huisvoru se lewe gaan hierdie rolle dikwels met ambivalensies gepaard, soos aangedui deur die jukstaponering van "altyd" en "nooit" in die eerste strofe, asook "groot hart" en "klein skulpomtrek" in die vyfde strofe.
Eyebers bind vorm en inhoud verder saam tot hegte eenheid deur haar uiters vaardige gebruik van die distigon se rympatroon. Woorde wat inhoudelik belangrik is en sleutels bied tot die lees van die gedig word dikwels beklemtoon deur hulle in rymposisies te plaas. Sy verhoed egter dat die rympatroon vervelig raak deur oordeelkundig gebruik te maak van enjambement. Buiten die voorgeskrewe rympatroon van die distigon, wend Eybers ook ander klankpatrone as bindingsmiddelle aan. Sy maak byvoorbeeld dikwels gebruik van alliterasie en binnerym.
Deur dinge wat nié sin maak nie te laat rym (letterlik en figuurlik gesproke), slaag Eybers daarin om tog tot 'n mate wel sin te maak van die onverstaanbare. Terselfdertyd kry sy dit egter ook reg om die leser met nuwe oë na die bekende te laat kyk deur te dui op teenstrydighede binne dít wat op die oog af 'n netjiese geheel vorm. Haar knap distigons bied dus insig in die onbekende, terwyl dit nuwe vrae laat ontstaan ten opsigte van die bekende.
Bronnelys
Brink, A.P. 2008. Groot Verseboek (deel 1). Kaapstad: Tafelberg.
Morris, W. (red.) 1973. The Heritage Illustrated Dictionary of the English Language. New York: American Heritage Publishing Company.