top of page

Kraak

My ouers is geskei toe ek nege jaar oud was en my stiefpa het my gemollesteer. Hierdie deel van die storie is myne en – as ‘n mens die statistieke kan vertrou – een in tien ander kinders s’n.

Toe ek oud genoeg was om my eie besluite te kon neem, het ek met terapie die krake toe gepolifilla, dit liggies afgeskuur en toe die hele besigheid met ‘n paar lae nuwe verf bedek. So goed soos nuut.

Maar voor ek my kon kry, het die krake weer vir my gegrynslag, soos die mure van ‘n huis wat op kleigrond gebou is. Voete van klei, ek.

Miskien is dit waarom sy my so gefassineer het, mevrou X: Sy was ‘n vrou sonder krake. In die twee jaar wat ek by die koffiewinkel gewaiter het, het sy en haar vriendin, Mevrou Y, elke Woensdagoggend gekom vir koffie en koek. As hulle karre iets vertel het van waarvandaan hulle gekom het, was dit makliker om daar te ontmoet as by een van hulle se huise.

Mevrou X daag altyd eerste op, in ‘n netjiese silwer sportmotor met leersiplekke, en groet beleefd. Mevrou Y kom so tien minute later in ‘n verbleikte eens-op-‘n-tyd kanariegeel Kia Picanto met twee kinderstoeltjies op die agtersitplekke – altyd haastig, altyd ‘n paar minute laat. As sy die deur oopmaak, vrees ek altyd dat daar taai-gevatte speelgoed of halvol kosbikke of erger gaan uitpeul. Sy maak dit vinnig weer toe, so asof om te keer dat die harwar van haar lewe ontsnap.

“Hallo Bekka,” groet sy dan met ‘n skewe glimlag om haar mond en ‘n serp in haar donker krulhare. “Wanneer begin die eksamens?” of “Hoe was die Engelse vraestel?” Of, omdat sy weet dat ek op ‘n plaas in die Karoo grootgeword het, “Het dit al gereën by julle?”

Haar gawe praatjies is goedbedoeld, maar dit laat my meer soos ‘n waiter voel, eerder as minder. As ons almal dieselfde is, het ek gedink, wil ek dieselfde wees as Mevrou X, nie dieselfde as Mevrou Y nie.

Ek hoor skerwe van hulle gesprekke. Uit die flenters wat ek bymekaarmaak wanneer ek hul bestellings gaan neem of die koffie en koek bring of rondstaan en maak of ek besig is, stik ek my eie lappieskombers aanmekaar. Hulle is al van hul skooldae af beste vriendinne. Albei het twee kinders. Mevrou X se man is ‘n dokter en hulle reis elke jaar oorsee. Sy het nie kinderstoeltjies of speelgoed in haar kar nie, want daar is ‘n au pair wat die kinders rondry. Mevrou Y is ‘n enkelma. Oor wat van haar man geword het, praat hulle nie, maar ek is ook nie so geinteresseerd nie. Dit is Mevrou X op wie ek my vissier stel.

Hulle praat oor gewone goed. Hulle kinders is omtrent ewe oud. Ek het hulle nog nooit gesien nie, maar in my verbeelding is Mevrou X s’n blond en bruingebrand (soos sy) en altyd besig met opvoedkundige aktiwiteite. Te oordeel aan die inhoud van Mevrou Y se kar, lewe haar kinders (twee donker ongetemde krulkopdogtertjies in my geestesoog) van stokkielekkers, fizzers en marie-beskuitjies. Hulle gesels oor Mevrou X se man en oor hulle vakansieplanne (Milan of Barcelona of Parys vir Mevrou X; skulpiesbaai vir Mevrou Y).

Albei hou van wortelkoek, maar soms is een of beide van hulle op ‘n dieet, dan drink hulle net ‘n swart Americano. Een of twee keer stuur Mevrou X haar bestelling terug – die koek te oud, die kofffie te koud – maar sy bly altyd beleefd. So beleefd. Daar is nie ‘n krakie in haar grimmering nie, ook nie in haar glimlag of haar stem nie. Wanneer dit haar beurt is om te betaal, maak sy altyd seker dat my fooitjie presies tien present van die rekening is. Dan, as Mevrou Y vertrek – altyd laaste – glip sy wanneer sy dink ek nie kyk nie ‘n ekstra R20-noot by. Net genoeg om my te laat voel asof sy my jammer kry.

Maar ek kan haar ook jammer kry. Eendag in die somer toe sy ‘n kortbroek aangehad het, het dit opgeskuif toe sy gaan sit en ek het die littekens op haar bobene gesien: snymerke, te simmetries en presies om per ongeluk te wees. Dalk die werk van ‘n skeermeslemmetjie of ‘n skêr of ‘n skerf glas. ‘n Padkaart van haar seer. Sy het haar broek se soom vinnig afgetrek toe sy my oë op haar bene gewaar en ek het ongemaklik weggekyk. Ons het in ‘n eerstejaars-kunsmodule Kintsugi bestudeer – die Japanese kuns om gebreekte erdeware te heg met boomgom wat met verpoeierde goud gemeng is. Ek weet nie waarom die snye my nou daaraan herinner nie.

Mevrou X se bene, daarenteen, was lank en bruingebrand. Sonder littekens of bloukolle of selluliet. Ek het altyd eerste die bene gesien en dan vir haar. Ek het die gevoel gehad dat ek regop deur die lewe sou kon loop as ek dit kon regkry om sulke bene te groei.

 

Net voor die November-eksamens daardie jaar begin het, het hulle opgehou om te kom. Aanvanklik het ek nie veel daarvan gedink nie, Mevrou X het waarskynlik oorsee gereis. Eenkeer gewaar ek van agter ‘n vrou met ‘n serp in donker krulhare, maar toe sy omkyk is dit ‘n ander gesig, nie Mevrou Y s’n nie. Steeds, ek was te besig met my eie probleme om veel aandag daaraan te gee. Tussen eksamenvraestelle en ‘n slegte break-up deur, het my verf weer begin afdop en dieselfde ou krake – en ‘n paar nuwes ook – ten toon gestel.

Omtrent ‘n maand later is ek en Leonard Cohen besig is om die breekware in my woonstel op te pak na die finale eksamen. Dis toe dat ek op die beriggie afkom in ‘n ou koerant: “Doktersvrou vermoor gesin”. Daar was nie ‘n foto by nie – dit kon enige dokter se vrou in enige woonbuurt in die noordelike voorstede wees.

Ek het die koppie laat val wat ek besig was om toe te draai en die skerwe het oor die kombuisvloer gespat. Ek het ‘n besem gaan haal.

“A crack, a crack in everything, that’s where the light gets in,” sing Cohen vir my.

bottom of page