Simfonie
Louise luister gewoonlik na popmusiek terwyl sy kos maak, maar vandag verruil sy dit vir Mozart se simfonie nommer 40 in G mineur. Mozart is glo goed vir ‘n baba se breinontwikkeling. Nie dat daar op sewe weke al ‘n brein sal wees nie. Of ore nie. Nogtans, dit kan nie skade doen om nou reeds die goeie gewoonte te vestig nie. Sy neurie saam met die aaanvanklike donker note van die strykers in die eerste beweging terwyl sy die spek in die pan braai, sit solank die water op vir die pasta. Sy maak vanaand tagliatelle alfredo – Nico se gunsteling. Hulle het immers goeie nuus om te vier.
Ta-ra-ram, ta-ra-ram, tar-rampam … die tema word heen en weer gegooi tussen die strykers en die houtblasers, verander telkens van sleutel – E-mineur, D-mineur, C-majeur, F-kruis-mineur – woede, trane, ‘n sug.
Hulle probeer al maande lank sonder sukses om swanger te raak. Al al die truuks in die boek probeer, van kruietee tot ovulasie-kits en al wat ‘n seksposisie is. Sy moet erken dat die reis self sy voordele gehad het – dis asof daar opnuut ‘n vlam in hul verhouding is – maar tog, elke maand was die teleurstelling daar. Hulle het al begin praat oor vrugbaarheidsbehandeling. Toe sy nie verlede week op die regte tyd begin bloei het nie, was sy versigtig om opgewonde te raak. Miskien was sy net laat, dit het al gebeur. Sy het uitgestel tot ná die naweek om ‘n swangerskapstoets te koop. Vanoggend in Clicks was haar hande skoon dom van senuagtighied toe sy vir die ding moes betaal. Sy is ook sommer daar en dan na die naaste toilet met die toetsie. Toe sy die twee pienk strepies sien, moes sy haarself keer om nie op die daad vir Nico te bel en dit uit te blaker nie. Maar sy wou hom van aangesig tot aangesig vertel. ‘n Mens se nie vir jou man oor die foon dat hy ‘n pa gaan word nie. Haar motivering om te wag tot hy huis toe kom is ‘n bietjie selfsugtig ook: sy wil sy gesigsuitdrukking sien wanneer sy hom vertel.
Haar aandag is terug by die musiek. Die vreemde vermenging van melankolie en energie tref haar – mooi en treurig en woedend, alles tegelyk. En dis maar net die eerste beweging. Terwyl sy wag op die water om te kook, haal sy solank die ertjies uit die vrieskas. Sy word onkant gevang deur ‘n ligte kramp toe sy buk, maar dit verdwyn weer net so vinnig soos dit gekom het. Sy sit die pasta in die kookwater, skep ‘n koppie vol ertjies uit en gooi dit ook in die pot – volgens die internet is hulle baba nou so groot soos ‘n ertjie. Vreemd hoe alledaagse voorwerpe skielik ‘n nuwe betekenis kan kry.
Tydens die ligter, liriese tweede beweging – vreedsaam, ten minste op die oppervlak – dwaal haar gedagtes na die dag se werk. Sy het vanmiddag ‘n spelterapiesessie gehad met ‘n seuntjie wie se boetie verongeluk het. Sy voet het tydens ‘n bergklimuitstappie op ‘n rotslys gegly. Hy het sleg geval en sy nek gebreek. Opslag dood. Dit het al drie jaar gelede gebeur, maar die hele gesin dra nog steeds die letsels. Toe sy ná die sessie vir die ma moes terugvoer gee, het sy amper skuldig gevoel oor haar eie geluk. Die ander vrou kan nie veel ouer as syself wees nie, maar smart het diep spore op haar getrap met sy misvormde moddervoete: haar skouers geboë, mondhoeke wat afdraand neig en diep kringe onder die oë van – hiervan is sy seker – ‘n moegheid wat geen slaap kan wegneem nie.
Sy kan haar nie indink deur watter hel daardie vrou moes gaan nie. Buiten vir hulle effense stryd om swanger te raak, het die lewe haar tot dusver eintlik sagkens behandel. Tog het sy van jongs af al die behoefte gehad om ander te help. Haar pa het haar spottenderwys Florence Nightingale genoem omdat sy die gewoonte gehad het om alles en almal te probeer beter dokter: van ‘n afvlerkvoeltjie wat sy in die parkie opgetel het tot die stotterende seun sonder skoolskoene wat deur die ander seuns geboelie is. Sy het gereeld broodjies ingepak vir een of ander iemand wat nie pousekos gehad het nie en tot haar ma se ontsteltenis al hulle ekstra komberse uitgedeel vir haweloses wat haar versorgingsdrang uitgebuit het deur keer op keer aan hulle deur te kom klop. Die besluit om spelterapeut te word was bloot ‘n natuurlike progressie van hierdie ingebore behoefte om te sorg vir dié wat nie vir hulself kan sorg nie.
En nou gaan hulle hul eie klein bondeltjie he om voor te sorg. Sy wonder of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is. As dit ‘n seuntjie is, sal hulle hom Nicholas noem. Sy hou van Juliet vir ‘n dogtertjie, maar miskien is dit te tragies …
Teen die begin van die derde beweging is die pasta klaar. Sy sal dit net vinnig opwarm wanneer hulle gereed is om te eet. Vanaand sal sy die tafel dek met hulle mooiste eetgerei en ‘n magdom kerse aansteek.
Sy wend haar tot die maak van ‘n vars slaai. Dit is asof die musiek nou ‘n innerlike konflik ervaar, voortgebring deur die verskillende tydmate van die melodie en die begeleiding. Miskien is dit die bron van die skielike ongemaklike gevoel binne haarself waarop sy nie haar vinger kan le nie. Hulle is vandag die gelukkigste mense op aarde, maar iets krap tog nou aan die rante van haar bewussyn. Dalk is dit nog die middag se sessie. Of miskien is sy net ‘n bietjie senuweeagtig omdat sy wil he die aand moet perfek verloop.
Sy sny per ongeluk haar duim raak wanneer sy die komkommer kap. Deksels. Weer ‘n ligte kramp wanneer sy in die kas grawe vir ‘n pleister. Volgens die internet is effense kramperigheid aanvanklik heeltemal normaal. Sy glimlag wanneer sy dink aan al die pyne en skete waaraan sy in die volgende nege maande gaan moet gewoond raak. ‘n Hoogswanger vriendin het haar nou die dag vertel dat ‘n mens sewe maande en twee jaar lank swanger is. Sy vryf ingedagte oor haar maag, wonder hoe sy met ‘n boepie sal lyk.
Ná die positiewe toetsie het sy ‘n draai deur Woolies se baba-afdeling gestap – haar verkyk aan hoe kléin die pasgebore kleertjies is. Sy het ingedagte aan ‘n sagte babkombersie gevryf en ‘n knop in haar keel gekry oor die brose mensie vir wie sy verantwoordelik gaan wees. Nee, reeds is. Miskien is dit die effens senutergende gedagte aan hierdie reuseverantwoordeliheid wat swaar op haar le. Daar lê ‘n paar beige babaskoentjies op die toonbank (sy kon haarself nie help nie). Sy sal dit netnou toedraai en vir Nico gee wanneer hy kom – dis hoe sy hom sal laat weet. Sy glimlag by die gedagte hieraan, ten spyte van die vae ongemaklikheid wat steeds nie wil wyk nie.
Sy besluit op die ingewing om nagereg ook te maak: pavlova met aarbei-coulis en vars vrugte, nog ‘n gunsteling van Nico. Sy klits die eierwitte tot hulle stywe punte vorm, vou dan die strooisuiker bietjies-bietjies in. Wanneer sy die asyn en vanieljegeursel ook ingevou het, sprei sy die blink meringue uit op ‘n stuk bakpapier en druk dit in die warm oond. Sy stel die oondklokkie vir ‘n uur.
Dan kook sy die die aarbeistroop, dun en rooi soos vars bloed. Sy maak dit fyn in die voedselverwerker wat vir ‘n oomblik die klanke van Mozart uitdoof.
Sy is besig om die vars aarbeie vir die pavlova in die fergietes af te spoel wanneer die stormagtige finale met sy wye register en bipolere kontraste tussen sag en hard aanbreek. Sy sny die aarbeie se stingels af en halveer hulle, haal solank die bloubessies en room uit die yskas. Dan, onderwyl die viole hulle woedende toonlere speel, word sy oorval deur ‘n kramp wat haar laat dubbeld vou. Sy gryp die kombuistoonbank was, staar na haar wit kneukels.
Wanneer die vreemde, byna disoriënterende weergawe van die hooftema terugkeer, voel sy hoe sy begin bloei. ‘n Paar beige babaskoentjies skree oopmond op die toonbank.