Bespreking van "Words, Wide Night" (Carol Ann Duffy) – Aniel Botha
Van alle soorte poësie is liefdesgedigte waarskynlik die moeilikste om te skryf. Carol Ann Duffy slaag egter met haar "Words, Wide Night" meesterlik daarin om oor die liefde te skryf. Hierdie vers is meer as genoeg bewys waarom sy haar posisie as eerste vroulike Poet Laureate van Brittanje waardig is.
Die gedig is 'n beskrywing van die ervaring van verlief wees, maar dit is terselfdertyd ook 'n meta-vers waarin die digter/spreker oor die skryfproses reflekteer. Dit is dus 'n liefdesgedig, maar ook 'n gedig oor die digkuns. Dié samevoeging van temas het tot gevolg dat die aangesproke geliefde en die digkuns tot 'n sekere mate verwisselbare entiteite word in die gedig, sodat die gedig ook gelees kan word as 'n liefdesverklaring aan die digkuns self.
Elk van die drie woorde in die titel van die gedig dui op 'n sentrale tema binne die vers. Die eerste woord is nie verniet "words" nie. Woorde is vir enige digter belangrik. Net soos die objek van verliefdheid dikwels 'n obsessie word vir die verliefde, word woorde vir die digter 'n obsessie. Die ervaring van verlief wees, gaan gepaard met bittersoet emosies; dit is terselfdertyd aangenaam en ondraaglik. 'n Soortgelyke ambivalensie word deur skrywers ervaar: die skryfproses is dikwels te gelyke tyd genotvol én pynlik. Duffy verwoord hierdie teenstrydige gevoelens pragtig wanneer sy skryf: "This is pleasurable. Or shall I cross that out and say / it is sad?" Die woorde "[o]r shall I cross that out" dui ook op 'n gevoel van onsekerheid wat verliefdes en digters deel. Net soos iemand wat verlief is, geneig is om alles wat die geliefde doen te ontleed vir versteekte betekenisse, is digters voortdurend besig om hul woorde te "weeg" en te "tel". In versreël 5 gebruik Duffy doelbewus die woord "singing" (in stede van "sing") om aan te dui dat die fassinasie wat 'n digter met taal en woorde het, een is wat nooit uitwoed nie. Een van die redes waarom dié obsessie bly voortduur, is juis omdat dit 'n "impossible song" (versreël 6) is: woorde is die digter se medium, maar dít wat die digter wil sê lê dikwels buite taal en kan daarom nie verwoord word nie. Dit is, op 'n paradoksale wyse, in baie gevalle juis hierdie onvermoë om gevoelens of ervarings onder woorde te bring wat digters aanspoor om aan te hou skryf.
Hierdie gaping wat bestaan tussen 'n woord en die realiteit wat dit verteenwoordig, bring die leser by die volgende woord in die titel van Duffy se gedig, naamlik "wide". Die woord "wide" suggereer afstand. Drie tipes afstand kom in die gedig ter sprake. Op 'n eerste, konkrete vlak kan die afstand waarna in die gedig verwys word, gesien word as 'n fisiese afstand tussen twee geliefdes. Die woorde "Somewhere on the other side of this wide night" kan impliseer dat die geliefde hom-/haarself in die ander halfrond as die spreker bevind. Frases soos "the distance between us", "song … that you cannot hear" en "the dark hills I would have to / cross to reach you" sal dan letterlik geïnterpreteer word. Die woord "wide" verwys egter ook na 'n emosionele afstand wat noodwendig tussen die verliefde en die geliefde bestaan. Dit is onmoontlik vir enige persoon om ooit iemand anders volledig te ken of te verstaan en daarom sal daar altyd tussen twee geliefdes 'n gaping bly wat nie oorbrug kan word nie. Die "song … you cannot hear" dui in hierdie geval nie letterlik op iets wat die geliefde nie kan hoor nie, maar eerder op iets wat die geliefde nie kan verstaan nie. Die spreker ervaar die psigiese afstand tussen haar en die geliefde terselfdertyd as "pleasurable" en "sad". Dit is so dat 'n mens dikwels juis aangetrokke voel tot die onbekende en misterieuse in iemand anders (daarom "pleasurable"). Maar terselfdertyd kan dít waartoe die geliefde nie toegang het nie, hom/haar uitgesluit laat voel (daarom "sad"). Die derde soort afstand wat in die gedig ter sprake kom, is die afstand tussen woord en realiteit waarna reeds verwys is. Hierdie gaping tussen taal en dít wat deur die taal verteenwoordig word, is pragtig verwoord in die slot van die gedig: "and this is what it is like or what it is like in words."
Die derde woord in die titel van die gedig is "night". Die verwysing na die nag kan, soos in die geval van die verwysing na afstand, op verskillende vlakke geïnterpreteer word. "Night" kan letterlik na die tyd van die dag verwys. Eensaamheid en die verlange na 'n geliefde word dikwels meer intens ervaar gedurende die nag as tydens die dag. Nag word ook geassosieer met slaap ("I close my eyes") en drome ("imagine") – die hele gedig kan gelees word as 'n droom wat die spreker het oor sy/haar geliefde. Die woord "night" kan egter ook meer figuurlik geïnterpreteer word as die onbekende en die "donker" dele van die geliefde se persoonlikheid (dus weer die idee van emosionele afstand). In hierdie geval verwys die "dark hills I would have to cross to reach you" (versreël 7) na moeilikhede in die verhouding wat oorkom moet word, eerder as na fisiese afstand. Indien die gedig benader word as 'n refleksie oor die digkuns, kan die "night" gelees word as 'n verwysing na die digter se eie onbewuste. Gedigte het dikwels hul oorsprong in die digter se onbewuste of drome. Die tweede versreël, "The room is turning slowly away from the moon", kan in hierdie geval gesien word as materiaal uit die onbewuste waarvan die digter, deur middel van die skryfproses, geleidelik bewus word. Net so kan die "dark hills" gelees word as innerlike struikelblokke wat die digter moet oorkom om die gedig te kan skryf.
'n Groot deel van hierdie gedig se bekoring lê in die dieper betekenisse wat onder die oënskynlik eenvoudige oppervlak skuil. Die vers is terselfdertyd toeganklik vir die deursnee-leser en 'n wonderlike vonds vir die meer ernstige poësie-leser of kritikus.
Bron
http://www.famouspoetsandpoetry.com/poets/carol_ann_duffy/poems/8118